Teks: Mark 1:15; 8:34-38; 10:35-45
Jesus begin preek
(Matt. 4:12-17; Luk. 4:14-15)
14 Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15 Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
Om Jesus te volg
(Matt. 16:24-28; Luk. 9:23-27)
34 Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35 want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36 Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37 Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38 Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”
Die versoek van Jakobus en Johannes
(Matt. 20:20-28)
35 Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.”
36 “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra.
37 Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”
38 “Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”
39 “Ons kan,” sê hulle vir Hom.
Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40 Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”
41 Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. 42 Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. 43 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45 Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
0 Comments